Hoekom kies jy hóm?
Ek het onlangs ʼn gesprek gevoer met ʼn ou vriendin en haar nuwe kêrel. Soos ons op die koue dag staan en gesels, let ek op hoe blou haar naels en lippe is. Hier is dit maar koud in die winter, en ons staan buite. Hy staan oorkant my met sy English-cut haarstyl, ’n kraaghemp en warm wolbaadjie. Sy vryf haar arms. Voor ek myself kan keer, sê ek so half snedig, “Jy’t darem ’n lekker baadjie aan hoor!”. Sy kyk na hom met ’n skaam glimlag en hy reageer, “Sy kon mos haar eie baadjie gebring het?!”
Hoekom reageer hy so? Is hy ’n millennium man wat glo vroue is onafhangklik en moet op hul eie voete kan staan? Is dit hoe mans hul vroue behandel? Ja, sy kon die weer dopgehou het en kon vir haarself ’n baadjie van die huis af gebring het, maar sy het nie. En nou kry sy koud. Noem my oudtyds, maar hy kon maar sy baadjie oor haar skouers gegooi het. Dit kos niks.
Ja, ek verstaan hoe vele moderne verhoudings werk - man en vrou is op gelyke vlak en elkeen het ewe veel sê in alles. Dit is natuurlik ʼn ideaal waarna ek en talle ander jongmense streef. Soos ek sê, I’m all for equality, maar ek glo daar is ʼn verskil tussen gelykheid en selfsug. ’n Verhouding is nie ʼn “elke man vir homself” speletjie nie. Dit is opofferings en omgee, dis inagneming en hulp. As hy nie bereid is om klein opofferings te maak nie, sal hy nie bereid wees om groot opofferings te maak nie. As hy nie eers sy baadjie vir jou sal uitrek nie, dink jy hy gaan jou wiel vir jou omruil, of jou stoof vir jou regmaak, of jou kind se doek omruil?
Sy reaksie laat my wonder; Gee hy letterlik net oor homself om? Is dit vir hom so baie moeite om iets so klein vir haar te doen?
Nee wat girl, ek dink nie hy is troumateriaal nie! Hy mag dalk blomme en tjoklits aandra, maar ek dink nie hy is jou tyd werd nie. Jy verdien meer as middelmatigheid. Ek hoop jy kan dit raaksien.