top of page

'n Versameling mooi woorde

"sy is eenvoudig 'n onvoltooid teenwooordige tyd, 'n boek wat mens in die middel begin lees en waarvan omslag, titelblad, begin en slot makeer.
Wát ek van haar het, is 'n warboel indrukke:
flardes van gesprekke, onsamehangende droombeelde, fantasieë, bygeloof, begeertes, heerlike heidense onskuld, leuns, klein gebare, drifte, lang pouses, onredelike vrese en vrae, miskien 'n houding van die kop, 'n trekkie van die lip, 'n lag, 'n obsene woord.
Herinneringe van haar is nooit 'gedagtes' nie, maar sintuiglike ervarings."

- Uit Die Ambassadeur, André P. Brink

Plant vir my ’n boom André

 Ingrid Jonker

plant vir my ’n akkerboom
sodat ek my gestalte kan herken
en dat die eekhorinkies hul akkers kom begrawe

gee vir my ’n hond
met pote wat ek kan soen
snags as jy slaap toornig en goed

moenie dat hul my boom afkap nie
ontwortel verguis versplinter nie
gee hom ’n hemel met blou akkers

maak vir my ’n oop huis
sodat my vensters die dag mag ontdek
groen of goud of grys maar welgeskape

gee dat my hond my liefhê
laat ek hom te vrete kan gee
as jy slaap verby die sterre en spieëls
van my voorkop

Soggens is die strand weer glad en skoon

soos skryfpapier

ek loop vir jou 'n kaalvoet brief van net een reel al langs die see

ek het jou lief

- onbekend

Paternoster

Antjie Krog

 

ek staan op ’n moerse rots langs die see by Paternoster
die see slat slingers in die lug
liggroen skuim
onverskrokke kyk ek elke donnerse brander
in sy gut voor hy breek
die rots sidder onder my sole
my bo-beenspiere bult
my bekken smyt die aangeleerde gelate knak uit haar uit
se moer ek is rots ek is klip ek is duin
helder sing my borste ’n koperklepgeluid
my hande pak Moordbaai en Bekbaai
my arms skeur ekstaties bo my kop:
ek is
ek is
die here hoor my
’n vry fokken vrou

Van al my liggeel dae

Wilma Stokenstrom

Van al my liggeel dae
teken ek hierdie een op;
dat ek later kan weet hoe swerms
duiwe van die dakke waai,
en dat ek, as ek wil,
later kan lees van 'n liggeel
dag en van jou hier langes my.
 

Te Stellenbosch

 

Jy het die moed, meisie

Om rond te slenter soos ’n slet

Kaalvoet en met ’n kortbroek

Deur strate van Stellenbosch

Ongeag die moeë maatreëls van die maatskappy

En tannies wat deur die gordyne tuur

 

Jy is moeg, meisie

Vir ordentlike ooms met oë van uile

En die bates van die burgerlike bestaan

In herehuise van Stellenbosch

Daarom kronkel jou kort hare ongekam

Bewoë deur die wind

Mirakel

Antjie Krog

ek behoort aan hierdie land

dit het my gemaak

 

ek het geen ander land

as dié land nie

 

mateloos is my liefde vir die land

verwikkeld gehard en onomwonde

 

ek glo nie aan wonders nie maar

die vreedsame vrymaking van my land

 

was ʼn wonder – onkant en lighoofdig bly

dit by my     die weergaloosheid daarvan

 

bly my by

Fragment

Ingrid Jonker

om nege-dertig het ek jou ontmoet
en volgens voorbepaling met die hand gegroet

wit was die buislig-stilte op die gruis
geslote in verdriet reeds elke huis.

die yl gekantel van 'n rafelende wolk
het jou gedagtes soos 'n stem vertolk:

by ons ontmoeting het jy reeds geweet -
diep in jou oë het jou hart gebreek.

Drink

Ronelda Kamfer

Ek drink som dae te veel

anner dae te min

maar

ek drink nooit genoeg nie

as ek dronk is praat ek te veel

as ek nugter is skryf ek te veel

ek praat of skryf nooit genoeg nie

Ek weet as ek net een ding reg kan doen

sou ek nie so kak gevoel het oor die res nie

bottom of page