Afrikaans lééf!
#AfrikaansMustFall staan met spuitverf op mure geskryf. Taalbeleide in Universiteite sluit Afrikaans uit en die plakkate skree; “Afrikaans, GO BACK TO THE SEA!!”
Go back to the sea?
Indoktrinasie! skree papiere soos dié.
weet jy nie?
my taal is nie die onderdrukker nie.
weet jy wie?
dis die presidensie.
verstaan jy nie?
transformasie!
‘back to the sea’ sal ons nie.
O’s hoort hie’.
Jy sien, Afrikaans is gebore op die lippe van mense, en dis hier waar dit lééf.
Afrikaans is nie soos hulle dink die besitting van mense met wit velle nie. Afrikaans behoort aan die bruinmense wat die taal in hul kombuise begin praat het. Afrikaans behoort aan die Moslems wat in 1835 die taal in Arabiese skrif geskryf het. Afrikaans behoort aan die GRA wat die Bybel na Afrikaans vertaal het. Afrikaans behoort aan die veeboere wat in die Boland rondgetrek het. Afrikaans behoort aan die Akademie vir Wetenskap en Kuns wat ʼn standaard vir Afrikaans geskryf het. Afrikaans behoort aan die eertydse slawe aan die Kaap. Afrikaans behoort aan die Khoimense om die Oranjerivier. Afrikaans hoort hier.
Want sien, hulle, ons, is dit wat Afrikaans is. Hulle en ons het Afrikaans lief. Alles van Afrikaans lief. Sy woorde in Kaaps en sy woorde in Griekwa-Afrikaans, sy vloek- en skelwoorde. Die woorde van huil en lag en skryf en speel, en selfs; sy Engelse woorde.
Afrikaans. Nie net Standaardafrikaans nie. Want ons kan nie ons liefde beperk tot ‘koeksisters’ en ‘pannekoek’, en ‘braaivleis’ en ‘plaasbrood’ nie. Ons kan nie die ‘alla’ en ‘hoeka’ vergeet nie. Ons kan nie ons oë rol vir ‘cool’ nie. Ons sê ‘attaché’ en ‘beige’. Ons skryf ‘voertsek’ en ‘fokkof’. Want dit is Afrikaans.
Ons het ʼn skaamtelose, en vreeslose liefde vir die Afrikaans van nou. Die Afrikaans wat al sy woorde liefkoos en liefhet. Die Afrikóóns en die Afrikaa’s. Die Afrikaans wat Afrikaans is, al ontbreek ʼn paar letters. Die Afrikaans wat ʼn plek het in die politiek. Die Afrikaans wat ʼn plek het in die wetenskap. Die Afrikaans wat ʼn plek het in die sitkamer. Dit is die Afrikaans wat ons is. Dit is die Afrikaans wat ons vir ons kinders wil leer.
Want op ons en ons voorouers se lippe is dit gebore, en hier sal dit bly groei, bly blom en bloei. Want Afrikaans se wortels lê in al sy provinsies, in al sy boeke en gedigte, in die harte van elkeen wat hom as ʼn moedertaal praat. Dit kan nie uitgeruk word en terug in die see gegooi word nie. Want, Afrikaans se wortels in die land. Afrikaans se wortels is diep en wyd, en sy blare is groen – want ons het Afrikaans lief, een laat Afrikaans lééf.
Dit is koud
en ek staan hier in Londen
mét my godgegewe white privilege
en wag vir my bus
Dit is régtig koud.
Só koud dat die spoeg
in die hoeke van my mond
die klein gekristalliseerde stalaktiete
laat smelt.
Dit is so moer koud.
Ek haal diep, diep, diep asem,
oor
en oor
en oor
want hierdie yskoue lug
is skoner as my land se water
Hierdie ysige lug maak my longe skoon
en maak my rein.
En soos wat ek hiér staan
(mét my white privilege)
en wag vir my bus,
dink ek:
hierdie taal wat almal so haat;
wat uitverkorenes teregtelik mag sleg sê;
wat soveel pyn vir soveel mense veroorsaak (het);
wat mense onderdruk (het);
wat hulle uit(ge)sluit (het);
wat die orgasmiese gehyg van Apartheid was (maar nog steeds is);
wat vir jare na jare se afdwinging
veroorsaak het dat mense in háár naam doodgemaak word
ter wille van háár eie beskerming;
wat mense van opvoeding weerhou (het);
wat mense van húlle identiteit weerhou.
Maar, wat van mý identiteit?
Mag ek dan nié in my eie taal bad nie, net omdat my water ander mense se droogte beteken?
Mag ek dan nié in my eie taal huil nie,
net omdat dit fokken donnerse white tears is?
Nee.
My taal is my taal
en ek sal nie skaam wees daaroor nie.
As ek wil bad, sal ek swem in Afrikaans
As ek wil huil, sal ek skree in Afrikaans
As ek wil sing, sal ek bulder in Afrikaans
As ek wil drink, sal ek dronk raak in Afrikaans
As ek wil rook, sal ek hoog raak in Afrikaans
As ek wil leef, sal ek sterf in Afrikaans
En daarom staan daar
op ʼn busstop se venster in Londen
in ys
met white privilege vingertjies geskryf
“Afrikaans is nie dood nie"
Skrywer onbekend - Maart 2016