top of page

Ek hou van 'n bietjie niks

Ons familie het ’n tradisie.

Sondae na kerk pak ons tee, muffins, steak, braaibroodjies, slaai, vla en poeding in ’n mandjie, laai die oumas in die bakkie en vat die pad na die Klein Karoo. Toe ek jonger was het ek dit glad nie geniet nie – watter tiener wil ’n hele dag met familie opgeskeep sit, en dit op ’n plek waar Mxit nie opvang nie?! Ons gaan altyd in die winter, om die hitte te ontsnap, en dan is die wind ook nog koud. En ek is oor die algemeen ook nie op my maklikste as ek honger is nie.

Maar soos ek ouer geword het, het ek geleer om hierdie uitstappies te koester. Toe ons vanoggend wegtrek uit die dorp sien ek uit daarna om ’n bietjie na die niks te gaan kyk.

Ons ry deur Karoopoort en verby die langste vyeboomlaning in die land (?), en klim op ’n stofpad wat lyk of dit nêrens heen lei nie. Ek het nie ’n idee waarheen ons op pad is nie, maar my pa ken die afdraaie soos die palm van sy hand. Soos altyd ry ons oor ’n paar hobbels wat my maag in my keel laat spring, en ons vryf ons oë wanneer ander gesinne op pad terug stof in ons oë jaag. Skielik trap my pa briek en ons draai links op ’n tweespoor-paadjie na links. Dit lei na enkele bouval uit klip en klei.

Ons stop daar, en nie langs ’n boom of waterstroompie nie. Die bouval is ’n baken wat vertel dat eenkeer, lank lank gelede, hier mense gewoon het. In en om die huis ’n lot rommel, en hopies as oral waar jy kyk.

Hier gaan ons ook vandag ons vleis braai.

Iemand in die bakkie het vroeër genoem dat hier is iewers grafte naby die huis is. Ek, agie, is dadelik die veld in op soek daarna. Al wat ek toe kan opspoor is ’n reuse erdvarkgat en ’n paar leë bierbottels.

Vir min of meer ’n uur sit ons vyf in die son en gesels oor die wolke, en die mense wat eens op ’n tyd in dié huisie gebly het. “Ek wonder hoeveel kindertjies is hier gebore, en hoeveel mense is hier dood,” sê een van my oumas.

Vier mure en ’n deurkosyn is al wat nou aan hulle bestaan herinner. Wie hier gebly het, en elke dag op hierdie stoepie gesit het, weet ons nie. Maar ons stop steeds by dié huisie en braai in sy skadu, omdat ons seker op ’n snaakse manier verbind voel aan hulle.

Soos hulle ongetwyfeld ook gemaak het, sit ons om die vuur en eet ons vleis. Terwyl ons eet is dit salig stil en leeg. In die Karoo is woorde soms baie oorbodig.

Na ete loop ek weer die veld in op soek na ’n grafsteen, dié keer loop ek in ’n ander rigting en my pa kom saam. Op die heuwel is ’n klomp klippe in ’n perfekte sirkel gepak, en my pa wonder of dit ’n dorsvloer kan wees.

“Hulle het seker koring hier geoes. Dit in die lug gegooi sodat die kaf kan wegwaai en die koring agterbly,” sê hy. Ek kan my skaars indink hoe dit moontlik sou wees om koring hier te plant. Al wat ek sien is klippe en stof.

’n Wysie van vroeër weergalm oor en oor in my kop, en ek fluit half vals – “voel jy soms of die Here te vêr is? Twyfel jy soms aan God se bestaan? Jy moet glo dat die Heer met jou saamloop, dat Sy Gees oral met jou sal gaan.”

Ons pak weer ons stoeltjies agter in die bakkie en klim in. Met die hond op my skoot en oë wat byna toe val vat ons die pad huis toe.

Na ’n ruk se uitkyk by die ruit draai my ouma na my en sê, “ek wonder wanneer dit tog weer sal reën.”

bottom of page